Die Here ons Beloner

Afgelope Sondag het ons in die erediens ons aandag gevestig op Hebreërs 11:1-7. Ek wil ons so in die middel van die week weer aan die erediens herinner, veral herinner aan die groot gedagte: sonder geloof kan ons God nie behaag nie.


Onthou wat die geloof is, soos ons dit kon sien in die die lewe van:


Abel: Onthou om te vertrou, dat die Here Jesus jou Bloedoffer is wat jou sonde-naaktheid bedek. Henog: Leef dag-vir-dag en tree-vir-tree met God in geloofsvertroue. Wandel met God en jy sal vir ewig lewe.


Noag: Neem die waarskuwing in God se Woord oor die eindoordeel ter harte en betree die Ark - Christus. Glo in Christus.


Ek wil ons ook herinner aan vers 6: “Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb. 11:6).


Ek weet nie hoe baie van ons dink aan God as die Groot Beloner nie. Meeste gelowe en godsdienste het 'n god wat opeis, vereis en terug-eis. 'n God wat neem, neem en nog neem. Alle ander gode is skuldinvorderaars, maar die HERE is die Beloner. Hy gee. Gee Sy Seun. Gee Sy Gees. Gee Sy Woord. Gee Homself.


Dink gereeld daaroor na, dat die Here beloon, wie Hom soek. Wie Hom soek, sal Hom vind.

0 views