top of page

Hoe kan ek voorberei vir 'n erediens?

Elkeen van ons is verantwoordelik daarvoor om onsself voor te berei vir elke komende Rusdag.


Elkeen van ons het 'n baie belangrike rol om te speel! Hier is 'n paar gedagtes oor hoe jy kan voorberei vir die erediens:


  1. Bid vir die erediens. Bid (bv. gedurende die week, of paar minute voor die diens) dat dit 'n Godsgeseënde erediens mag wees. Bid ook vir die prediking, dat die Heilige Gees die gemeente daardeur sal opbou.

  2. Bid vir die prediker. Die predikant het jou gebede broodnodig. Bid dat hy die teks wat hy gaan preek reg sal verstaan en reg sal "sny", dat die prediking nie 'n werk van sy vlees sal wees nie, maar van die Heilige Gees. Bid dat die Heilige Gees die predikant sal lei in die voorbereiding van die erediens en die prediking self.

  3. Bid vir jouself in jou voorbereiding om na die erediens te gaan. Bid (bv. gedurende die week en/of paar minute voor die diens) dat die Here jou hart sal voorberei om Sy Woord te ontvang. Vra dat jy sonder afleidings aandagtig daarna kan luister. Vra vir insig om te verstaan wat gepreek word.

  4. Lees die Skrifgedeelte voor die erediens vir jouself deur. As dit moontlik is, lees die teksgedeelte (en 'n Psalm of twee?) van die komende erediens deur en raak vertroud daarmee.

  5. Neem notas tydens die prediking. Om notas te neem help jou om aandag te behou. Jy kan dan ook in die komende week jou notas hersien en jouself herinner om toe te pas en te leef wat afgelope Sondag gepreek is.

  6. Luister vir die toepassing in jou eie lewe. Vra die Here om jou te wys hoe die erediens en die prediking op jou as individu van toepassing is. Vra die Gees om vir jou te verduidelik en te wys waar en hoe jy dit moet toepas.

  7. Deel "een gedagte" met die predikant. Predikante hoor dikwels kritiek, maar ook baiekeer 'n generiese boodskap soos: "mooi boodskap" of "dankie vir die erediens/preek". 'n Godvresende predikant verlang egter daarna om te weet óf en hóé die Heilige Gees deur die prediking 'n verskil in jou lewe maak. As dit moontlik is, deel met die predikant wat presies in die prediking tot jou spreek en hoe die Heilige Gees met jou daardeur werk.

Dit is belangrik dat die predikant die erediens en die prediking tydens 'n erediens prioriteit maak. Dit maak egter ook sin, dat ons as lidmate ook die diens en die prediking prioriteit moet maak en daarvoor moet voorberei!


(Hierdie artikel is 'n verwerking en vertaling van "Seven Ways Church Members Should Prepare for a Sermon" deur Rainer, T.S.)


Sien julle DV Sondag! Groete uit die pastorie

275 views

Recent Posts

See All

Gefokus

bottom of page