top of page

Heilige Vredemakers

Iets wat my bybly van afgelope Sondag se teks, is die opdrag in Hebreërs 12:14:


"Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;"

Dit is so 'n unieke opdrag, want vrede en heiligmaking is die twee dinge wat jy net kan jaag as jy dit reeds het. Ek kan net vrede soek met mense as ek self vrede het met God. Ek kan net heilig word, as ek reeds afgesonder is. Dit is die boodskap van die Hebreërbrief tot op hede: Jesus het vir ons vrede bewerk. Deur die offer van Sy liggaam is ons geheilig.


Met die vrede wat Hy gegee het, soek ek ook nou vrede met almal. Met die dat Hy my geheilig het, wil ek ook nou word wat ek is - heilig! Om vrede en heiligheid 'n konkrete werklikheid te maak...dít is die opdrag. Dit is my en jou roeping.


As ons nie word wat ons is nie, is dit dan enigsins seker dat ons dit wel is? In ander woorde, die wat nie vrede & die heiligmaking najaag nie, kan nie seker wees dat hulle gered is nie. Meer nog, die wat nie groei in heiligmaking nie, sal nie die Here sien nie.


Ek jaag na vrede en heiligmaking, want dit is my nuwe identiteit. Dit is wat ek in Christus is: 'n heilige vredemaker.


Groete uit die pastorie!

43 views

Recent Posts

See All
bottom of page