Stefanus (wat "kroon" beteken) van wie ons lees in Handelinge 6 & 7, was een van die eerste sewe diakens (mede-werkers) in die Nuwe-Testamentiese Kerk - 'n man vol van geloof en die Heilige Gees. Hy het wonders gedoen, was geleerd en baie welsprekend.
Omdat mense nie die wysheid van die Gees in Stefanus kon weerlê nie, is daar valse gerugte van hom versprei en gesê dat hy lasterlike dinge teen die wet en die tempel gesê het. Hy is gevange geneem en voor die Joodse Raad gebring. Daar het hy kragtig getuig en aangetoon dat die hele Ou-Testament, die wet en die profete eindelik alles wys op Jesus Christus.
Stefanus het ook getuig hoe Israel in die geskiedenis die leiers wat die Here gee, verwerp het en selfs die profete doodgemaak het.
Stefanus sê toe eindelik tydens sy verhoor: "Kyk, ek sien die hemele geopen en die seun van die Mens aan die regterhand van God staan." (Hand. 7:56)
Oor al hierdie dinge het die Jode in woede Stefanus buitekant die stad gesleep en daar gestenig. So ontslaap Stefanus in die Here in die jaar 34 na die geboorte van Christus, in die 19e jaar van die regering van Tiberius. Godvresende manne het hom met groot rousmart begrawe.
Comentários