top of page

Apologetiek: wat is dit, hoekom is dit nodig en hoe doen ons dit?

Apologetiek… ‘n vreemde woord, is dit nie? Nie een wat ons in vandag se tyd so gereeld hoor nie. Maar tog is dit oral om ons, in ons gesprekke met ons geliefdes, gesprekke met ongelowiges en al hoe meer in ons gesprekke met mede-gelowiges. Maar wat is dit? Hoekom is dit nodig? Hoe doen ons dit?


Apologetiek is die verdediging van jou geloof en alle aspekte wat daarmee gepaard gaan soos byvoorbeeld, luister, waarneem, navors en beredeneer.


Voorheen was apologetiek hoofsaaklik iets wat moes gebeur wanneer jy in kontak kom met ongelowiges, maar dit word al hoe meer duidelik dat ons apologetiek in ons gesprekke met mede-gelowiges ook nodig het as gevolg van al die “wêreldse” idees en leringe wat ons lewens infiltreer:


“moenie my oordeel nie”, “die Here sal nie vir my iets gee wat ek nie kan hanteer nie” en “ek kan sondig lewe en doen wat ek wil, want die Here sal my in elk geval vergewe.” Daar is fout met elkeen van daardie stellings.


1. "Moenie my oordeel nie."


Daar word van ons as Christene verwag om liefde vir ons naaste uit te leef en te beoefen. Wanneer jy ‘n geliefde sien wat wandel in sonde, is dit dan nie jou plig om met daardie persoon te praat en hul te wys op hul sonde, sodat daar bekering kan plaasvind nie? Of is dit meer liefdevol om hom/haar te laat bly wandel in hul sonde terwyl jy as Christen weet wat die resultaat gaan wees?


2. "Die Here sal nie vir my iets gee wat ek nie kan hanteer nie."


Ons is van nature ondankbaar en daarom vergeet ons so maklik, hoe baie ons die Here werklik nodig het. Ons raak vasgevang in ons alledaagse lewens en floreer op die idee van onafhanklikheid, maar dan gebeur daar iets wat jou platslaan en jy nie meer weet watter rigting om in te gaan nie. Jy sal dan mense kry wat sê “die Here sal nie vir jou iets gee wat jy nie kan hanteer nie”, maar die teenoorgestelde is waar. Die Here laat hierdie “moeilike tye” toe om ons juis te wys hoe nodig ons Hom eintlik het en dat ons op ons eie nie regtig so sterk is soos wat ons dink nie.



3. "Ek kan sondig lewe en doen wat ek wil, want die Here sal my in elk geval vergewe."


Die Here vergewe ons, maar dit is nie rede genoeg dat ons kan lewe en sondig soos ons wil nie. ‘n Persoon wat hierdie idee nastreef se bekering en wedergeboorte kan ernstig bevraagteken word. ‘n Persoon wat die Here lief het sal nie doelbewus in vrede leef met dít waaroor ons as Christene eintlik ‘n diepe berou moet hê nie. Dié wat die Here liefhet streef daarna om te leef soos die Here in Sy Woord sê ons moet lewe en mik daarna om te lewe soos Christus.


Hierdie was net ‘n paar “wêreldse” idees wat ons lewens infiltreer het, daar is nog talle meer. Die doel van apologetiek is om “slegte” denke/idees te vervang met goeie en Skrifgetroue denke/idees. Sodat, wanneer ons in so situasie beland waar daar “wêreldse” idees aan ons openbaar en verkondig word, dat ons dadelik daarop sal let, waak en ander ook sal waarsku en toerus om nie in die donker van die wêreld te verval nie, maar steeds te bly wandel in die lig van Christus.


1 Petrus 3:15-16 (‘20) sê:


Inteendeel, eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met 'n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan.

Hierdie tekste is ‘n goeie voorbeeld om te wys dat apologetiek nodig is vir die gelowige en gee ons ook ‘n idee van hoe dit moet gebeur.


2 Timoteus 3:16 (‘20) sê"


Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam...

Apologetiek is nodig vir die bevordering van goeie en Skrifgetroue denke en hierdie teksgedeelte wys ons daarop dat die Skrif vir ons juis gegee is vir daardie doeleindes.


Die wonderlike eienskap van apologetiek is dat dit gedoen kan word op verskillende vlakke en maniere. Jy kan so ver gaan as om ‘n YouTube kanaal te begin wat hoofsaaklik handel oor apologetiek of jy kan apologetiek op ‘n kleiner skaal doen deur met jou geliefdes te gesels.


Daar is geen grense of perke, maar jou gesindheid is die eienskap wat jou sukses mag maak of breek in dít wat jy wil bereik.

98 views

Recent Posts

See All
bottom of page