top of page

e-Tydskrif Uitgawe 1: alles wat jy wil weet

Updated: Sep 1, 2022

"e-Tydskrif" is seker nie die mees opwindende naam wat 'n mens kan uitdink vir ons "blog" nie. Miskien kan een van ons een of ander tyd 'n meer oorspronklike naam bedink! Nietemin, noem dit nou 'n blog of 'n e-tydskrif, ek is opgewonde oor wat besig is om hier te gebeur!


Hierdie is ons eerste uitgawe. Op hierdie blog gaan jy artikels (selfs foto's!) vind wat ons eie gemeentelede skryf oor diverse onderwerpe.


Die skrywes sal so stuk-vir-stuk hier op ons webblad geplaas word. Hieronder is ook 'n PDF weergawe, waarin al die eerste uitgawe se artikels saam verskyn. Laai dit gerus af of druk dit vir jou uit!


Uitgawe 1_Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet e-Tydskrif
.pdf
Download PDF • 252KB

Dit nou eers daar gelaat.


Jy wonder dalk, waarom skryf ons graag op hierdie blog? Hier is 'n paar redes:


1. Effektiewe medium: Ons leef in ’n tyd waar mense toenemend media op die internet inneem (lees, luister, kyk). ’n Aanlyn “tydskrif” is wat dit betref, in die kol. 2. Selfverrykend: Daar is min dinge wat ’n mens so laat groei en ’n mens so verryk, as om iemand anders iets mee te deel, te leer, te vertel. Om iets vir jouself uit te maak en dan met ander te deel kan vir jou persoonlike groei baie beteken. 3. Nie nét teologies van aard nie: Ons skrywes is nie noodwendig nét teologies van aard nie. Ons skryf oor kerk, kultuur, verhoudings, die natuur, skoonheid ens. Jy skryf met jou unieke uitkyk, jou unieke manier van skryf ens. Die bedoeling is en dit is NB: dat ons vanuit ’n Christelike wêreldbeskouing kyk en skryf oor elke aspek van ons lewe. Die aarde en sy volheid behoort immers aan die Here! (Ps. 24)! 4. Bedien mekaar: Ons gemeente vind baat by mekaar en ons bou mekaar op en bedien mekaar deur middel van hierdie blogskrywes. Elkeen deel iets uit en jy deel vanuit jou lewenservaring en perspektief. Jy deel iets, as iemand wat gawes van Sy Heilige Gees ontvang het. Op 'n manier kan 'n mens seker sê, ons gesels met mekaar, via hierdie “e-tydskrif”. 5. Evangelisasie: Ons webblad is toeganklik vir enigiemand. Ons plasings kan ’n manier wees om uit te reik na ander lesers in die gemeenskap van Graaff-Reinet (selfs Suid-Afrika en die res van die wêreld). Op die manier is ons skrywes ’n vorm van Evangelisasie.


Ek dink ek praat namens almal as ek sê: mag hierdie tydskrif baie verrykend wees vir elkeen wat lees. Mag dit ook lei tot meer gesprekke tussen ons en met ander mense!


Groete,

Marnix

51 views

Recent Posts

See All
bottom of page