top of page
Writer's pictureMarnix Boersema

Inkommers

Updated: Jul 15, 2020

Ek dink aan die teksgedeelte van afgelope Sondag (Hebr. 11:8-23) en ek besef ons raak soms te maklik, té tuis. Die wêreld moet vir my ‘n vreemde plek bly. As Christene is ons hier op aarde maar altyd ”inkommers” soos hulle die nuwe intrekkers in Graaff-Reinet noem.


Inkommers het ‘n ander manier van doen. Hulle het ‘n ander manier van praat. ‘n Inkommer dink selfs anders. ‘n Mens wil nie eintlik ‘n inkommer wees nie, want jy pas nie regtig in nie. Alles is nuut en onbekend.


Tog, as Christen is ek altyd ‘n inkommer en wil ek ‘n inkommer bly.


Ons is vreemdelinge en bywoners in die wêreld. Soos Abraham woon ons soos vreemdelinge in tente, tydelik. Ons het ‘n ander manier van doen. ‘n Ander manier van praat. Ons dink selfs anders. Ek is en bly ‘n inkommer, want my burgerskap is in die hemel. Ek verwag die hemelse Vaderland en die stad waarvan God self die ontwerper en bouer is.

Op aarde wil ek nie tuis raak nie. Die wêreld is my woning nie.


——


Die wêreld is ons woning nie.

Totius (JD du Toit)


Dit merk ek aan die son wat wyk,

en ‘k merk dit aan die reier wat

mistroostig na die son sit kyk

op een been, in die biesiesvlei.

En is die laaste strale weg,

dan rys ‘n koue op uit dié vlei.

‘n Koue gril deurhuiwer my;

en ‘k sien dit dan aan alle ding

wat in die skemer my omring,

die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.

Dit sien ek as die bloedrooi maan,

van agter veldstof opgegaan,

nog net die kerk se dak bestryk

vanwaar ‘n uil, mistérie-stom,

sit na die maan se skyf en kyk.

En nou dit stil word op die straat,

dink ek hoedat die middag laat

‘n lykstoet uitgekom het daar

waar nou die maan en uil ontmoet.

En ‘k merk dit dan aan alle ding

wat in die aandstond my omring,

die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.

Dit voel ek as die wind ontwaak,

as die eikebome knars en kraak,

dit hoor ek in die fladdering

van voëltjies wat hul vlerke slaan

teen die verwarde boomtakke aan.

en as ek nader kom dan vind

ek by die maan se wisselstraal

‘n nes vol kleintjies deur die wind

omlaaggeslinger, dood, verplet.

Ek voel dit dan aan alle ding

wat in die nagstond my omring,

die wêreld is ons woning nie.

101 views

Recent Posts

See All

Gefokus

Commentaires


bottom of page