Hoe voel jy oor die samesang in die erediens op ‘n Sondag? Is dit iets waarteen jy opsien? Wonder jy dalk hoekom ons so baie moet sing, en of ons dit nie maar eerder net kan los nie?
Dit is ‘n alombekende “probleem” in gemeentes van verskillende denominasies – ons sukkel om te sing!
Die bekendste redes wat aangevoer word hiervoor is:
Dit wat gesing word is onbekend
Die melodieë is vreemd
Die musikante / orrelis speel te vinnig of te stadig of te hard of te sag
Daar moet meer instrumente of ‘n beter klankstelsel wees
Ek kan nou maar net eenmaal nie sing nie – so gemaak en so “gelaat-staan”!
Elkeen van hierdie redes het verseker meriete, en is nodig om verbeter te word waar dit nodig is. Ek maak geen van hierdie probleme af as ongeldig nie, dit is baie keer die geval.
MAAR… Ek dink die eintlike probleem is iets heel anders…
In films oor vroeër jare is dit kenmerkend hoe ‘n groot deel sang van mense se lewens uitgemaak het. Vrouens het bymekaar gekom om vrugte in te lê – dan sing hulle. Slawe en matrose op skepe het gesing om die werk meer draaglik te maak en ‘n ritme te vind. In meer onlangse tye het die hele gesin die een na die ander liedjie gesing oppad see toe om die langpad korter te maak – die pa’s ook! Skool- en kerkkampe is gekenmerk deur die sing van kampvuurliedjies- van “Osbraai op Kromdraai” tot “Die Alibama”. Op skole was daar ‘n weeklikse musiekklas, waar kinders geleer het om behoorlik noot te hou.
Skoolkonserte het hoofsaaklik bestaan uit elke graad wat twee liedjies gesing het… Ek onthou die jaar wat dit in ons skool verander het… Dit was die jaar van Kurt Darren se “Kaptein, span die seile”. Die “konsert” het verander na ‘n “revue”. Die sang is vervang met Kurt oor die luidsprekers en leerders wat danspassies uitvoer.
Die kinders se stemme was stil…
Ons leef in ‘n tyd waar mense feitlik nooit meer sing nie – behalwe dalk die volkslied of “Hie’kommie bokke” by ‘n rugbywedstryd.
Só, omdat sing in die alledaagse lewe vreemd geword het is dit ook iets wat nie meer vir ons natuurlik kom in die kerk nie. Ons voel ongemaklik wanneer ons sing, miskien omdat ons dit nooit meer op enige ander plekke doen nie.
Jy dink dalk nou by jouself: Presies! So, kom ons los dit dan eerder!
Dit sou dalk ‘n opsie kon wees indien sang vir die Here opsioneel was. As dit net ‘n manier was om ‘n erediens vroliker te maak of te versier. Sodra ons egter ons Bybels oopmaak, besef ons dat sing nie bloot ‘n opsionele byvoeging is nie.
Hier is ‘n paar redes waarom dit belangrik is om saam met die gemeente te sing:
Dit is ‘n direkte opdrag van die Here
Goeie kwaliteit musiek is vir die Here belangrik (kyk maar na die moeite wat gedoen is met musiek tydens die tempeldiens)
Dit is hoe ons die Here loof vir sy grootheid
Ons word daardeur innerlik versterk en voorberei vir moeilike tye
Ons bemoedig, leer en vermaan daarmee ons geloofsfamilie
Dit is ‘n kragtige wapen teen die aanvalle van die bose
Dit dien as ‘n getuienis vir die wêreld
In ‘n opvolg artikel sal bogenoemde redes verder uitgebrei en vanuit die Skrif motiveer word. Daar is so baie in die Skrif oor sang dat dit ‘n onreg sal wees om dit hier te probeer inpas.
Maar vir eers net dit: Ons kan nie tevrede wees met middelmatige en halfhartige lofprysing nie.
Dalk is dit tyd vir ander wysies, eenvoudiger woorde en meer instrumente. Maar, kom ons wees eerlik, om al hierdie dinge te verander gaan niks help indien ons ingesteldheid oor sang nie eers reg is nie.
So wat kan jy doen?:
Sing! Al voel jy ongemaklik.
Sing! Al is jy soms van die noot af.
Sing! Al wil jy nie.
Sing! Al is jy nie seker oor die melodie nie.
Sing! By die huis, as jy in jou kar ry, en as jy in die tuin werk.
Sing! En leer jou kinders om dit ook te doen.
Sing! Of dit nou Psalm 146, Op Berge en in dale of Matt Redman se “10 000 reasons” is.
Die goeie nuus is dat kultuur verander kan word - as ons regtig die begeerte het om dit te doen.
Al hou die wêreld op sing, mag die kerk se stem nooit stil word nie.
Kom ons begin elkeen by onsself: Wat kan ek doen om te help kweek aan ‘n kultuur van “sing”? Kom ons moedig mekaar aan om saam te werk aan planne vir nie net “aanvaarbare” nie, maar “UITSTEKENDE” sang!
留言